Van die stembus tot die markte

Onlangse verkiesings in die Verenigde State en Suid-Afrika wys hoe die politieke landskap besig is om te verander. Kiesers is toenemend ontevrede met die regerings wat aan bewind is en dring aan op groter aanspreeklikheid. Die uitslae in albei lande sal belangrike gevolge hê vir die beleidsrigting, politieke stabiliteit en beleggersvertroue.

Hoogtepunte

Politieke verskuiwing in die VSA

  • Demokrate beheer Huis en Senaat
  • Trump se wetgewende ruimte verminder
  • Groter Kongrestoesig word verwag
  • Risiko van wetgewende dooiepunt neem toe

Impak op wêreldmarkte

  • Handelspanning kan afneem
  • Laer oliepryse ondersteun inflasievooruitsigte
  • Geopolitieke risiko’s bly hoog
  • VSA se fiskale posisie bly ’n bekommernis

SA munisipale verkiesings

  • ANC-steun daal beduidend
  • ANC beheer minder munisipale rade
  • Koalisiemunisipaliteite neem skerp toe
  • Groot metro’s staan voor koalisie-onderhandelinge

Koalisievooruitsig

  • Stabiliteit sal deurslaggewend wees
  • Infrastruktuur bly ’n kernprioriteit
  • Munisipale finansies moet verbeter
  • Privaatsektordeelname word al belangriker

VSA – Demokratiese oorwinning beperk Trump se agenda

Die Amerikaanse middeltermynverkiesing was ’n groot terugslag vir president Donald Trump. Die Demokratiese Party het beheer oor sowel die Huis van Verteenwoordigers asook die Senaat verkry. Die omvang van die oorwinning het verwagtinge oortref en aan die Demokrate die grootste kongresmeerderheid gegee wat enige party sedert 1974 behaal het. Die uitslag weerspieël kiesers se ontevredenheid met die regering se hantering van kwessies soos lewenskoste, handelsbeleid en immigrasie, asook sy betrokkenheid by die konflik met Iran.

Gevolge vir beleid en bestuur

Die uitslag verander die politieke magsbalans in Washington ingrypend. Hoewel Trump president bly en steeds oor aansienlike uitvoerende gesag beskik, sal die Demokrate nou meer invloed hê op die wetgewende agenda, staatsbesteding en die Kongres se toesig oor die regering.

Die mees onmiddellike gevolg sal waarskynlik strenger toesig oor die regering wees, met ’n groter risiko dat wetgewing in die Kongres kan vasval. Die Demokrate sal na verwagting fokus op ondersoeke na die regering se optrede, sy bande met maatskappye en sy gebruik van regeringshulpbronne. Bekostigbaarheid en gesondheidsorg sal waarskynlik ook hoog op die agenda wees, met ruimte vir samewerking tussen die twee partye oor sekere kwessies.

’n Demokratiese meerderheid laat die party egter nie toe om Trump se beleid sommer om te keer nie. Die president behou sy vetoreg, en die Demokrate het nie die tweederdemeerderheid wat nodig is om ’n presidensiële veto uit te skakel nie. Die president se uitvoerende bevoegdhede op terreine soos handel en buitelandse beleid bly boonop grotendeels van krag. ’n Grootskaalse terugtrekking van invoertariewe of ’n onmiddellike verandering in Amerika se internasionale betrekkinge is dus onwaarskynlik.

Kunsmatige intelligensie sal waarskynlik meer aandag kry. Teenstand teen die vinnige uitbreiding van datasentrums het ’n belangrike verkiesingskwessie geword, veral in deelstate waar grootskaalse infrastruktuurontwikkeling plaasvind. Strenger regulatoriese toesig en goedkeuringsprosesse kan toekomstige investering in datasentrums vertraag.

Gevolge vir markte

As handelspanning afneem, sal dit wêreldwye ondernemings bevoordeel, veral dié wat van internasionale voorsieningskettings afhanklik is. Intussen het laer oliepryse ná die verkiesing inflasieverwagtinge laat daal. Dit kan die druk op sentrale banke verminder om rentekoerse op vlakke te hou wat ekonomiese groei rem.

Die markreaksie moet egter met omsigtigheid beoordeel word. Die konflik met Iran duur voort, en Trump behou steeds aansienlike gesag oor militêre besluite. As die konflik weer verskerp, kan oliepryse vinnig terugstyg en kommer oor inflasie weer opvlam.

Amerika se verswakkende fiskale posisie bemoeilik ook die langertermynvooruitsigte. Met staatskuld bo 120% van die bruto binnelandse produk (BBP) kan meningsverskille oor staatsbesteding en die skuldplafon tot verdere wisselvalligheid in die mark vir Amerikaanse staatseffekte lei. Politieke verdeeldheid kan dit al hoe moeiliker maak om dié strukturele fiskale probleme aan te pak.

Die Demokratiese oorwinning kan uiteindelik groter politieke terughoudendheid meebring, terwyl die kern van die Amerikaanse ekonomiese beleid waarskynlik dieselfde sal bly. Die geloofwaardigheid van instellings, fiskale volhoubaarheid en geopolitieke onsekerheid bly belangrike risikofaktore.

SA – Koalisiepolitiek sal ekonomiese uitkomste bepaal

Suid-Afrika se munisipale verkiesing van 2026 was nog ’n groot terugslag vir die ANC. Die party het in elke provinsie steun verloor namate kiesers toenemend gefrustreerd geraak het met verswakkende munisipale dienste en swak plaaslike bestuur.

Die ANC se agteruitgang was aansienlik. Ná die 2021-verkiesing het die party 122 van die land se 213 munisipale rade beheer. Hy sal nou slegs 54 munisipaliteite regeer. Intussen het die getal munisipaliteite wat koalisies moet vorm tot 138 gestyg, byna dubbel soveel as ná die vorige verkiesing.

Gevolge vir plaaslike beleid en bestuur

Die aandag verskuif nou na koalisieonderhandelinge, veral in Johannesburg, Tshwane, Ekurhuleni en eThekwini. Die stabiliteit van dié koalisies sal deurslaggewend wees, aangesien politieke binnegevegte, leierskapsveranderinge en beleidsverskille vorige koalisieregerings dikwels ondermyn het.

Die beste uitkoms sal pragmatiese koalisies wees wat politieke verskille opsy kan sit om munisipale prestasie te verbeter. Ongeag watter partye saam regeer, behoort die beleidsprioriteite redelik duidelik te wees. Munisipaliteite sal water- en elektrisiteitsinfrastruktuur moet verbeter, paaie moet onderhou, finansiële bestuur moet versterk en inkomste doeltreffender moet invorder. Hulle sal ook meer op vennootskappe met die private sektor moet steun om infrastruktuuragterstande in te haal en doeltreffender te funksioneer.

Gevolge vir markte

Koalisies waarin partye goed saamwerk, kan beleggersvertroue versterk en ’n gunstiger sakeomgewing skep, veral in Gauteng se vernaamste ekonomiese sentrums. Meer betroubare munisipale dienste en infrastruktuur sal investering deur die private sektor, werkgeleenthede en eiendomswaardes ondersteun. Dit kan mettertyd ekonomiese groei bevorder.

Laai PDF af

Bronne: The Associated Press en die IEC. Sien asseblief die PDF hierbo vir die volledige vrywaring. WGA Wealth Group (Pty) Ltd is ’n gemagtigde Finansiële Diensverskaffer, FSP No. 49917.

In the News

From the Ballot Box to the Markets

Recent elections in both the United States and South Africa have highlighted a changing political landscape, with voters expressing growing dissatisfaction with incumbent administrations and

Read More